We are so excited that Santie,, our earth mother mentor, has decided to tell our story. she is a wonderful artist, storyteller and illustrator as we think she must tell all our stories!! Don't forget to play this to all your little ones..
0 Comments
Verweg, diep in die stilste wegkruipplekkies van die woud, is 'n groot geheim weggesteek. Toegevou onder groen-groen mos, blaartjies en takkies, is daardie die allerwonderlikste towernes. Dis nie sommer net 'n gewone nessie nie, want geen voëltjie woon daarin nie. Nee, dis die ongelooflikste nes waarvan jy nog ooit gehoor het. Dit is die binneste-wegsteek nes waar die Hoggamajôjôs woon. Hoe die nes en sy bewoners op die berg in die woud kom woon het, is 'n yslike groot geheim. Geen gerespekteerde Hoggamajôjô sal daardie geheim ooit verklap nie, want dis soos om die ergste mensesonde te wil doen... Al wat jy te wete kan kom, is dat hulle vir honderde jare reeds in die omgewing is en dus alles oor die omgewing, die mense en die diere weet. Hoggamajôjôs is mal oor mense, dis hulle lekkerste tydverdryf om hulle stilletjies dop te hou! Soms gaan hulle ongesiens in mense se huise kuier en loer al hulle gewoontetjies skelmpies af. Omdat Hoggamajôjôs groot terggeeste is, skuif hulle die mense se bossies sleutels of iemand se bril en die laaste paar jaar ook selfone, na 'n ander lêplek sodat die arme persoon vreeslik na sy besittings soek! Die Hoggamajôjôs vind sommige van die Hogsback inwoners geweldig fassinerend, soveel sodat hulle nie anders kan as om hulle na te boots nie! Gevolglik het sekere Hoggamajôjôs die interessantste haarstyle of kleredrag en word self's verlei deur die smaaklike menskos en drinkgoed! Hulle sal ure lank mekaar vermaak met die nuutste stories uit die dorp en selfs konserte hou waar elkeen 'n mens naboots tot groot vermaak van die res! Hoggamajôjôs is vrolik en gelukkig, want wat is daar wat wonderliker kan wees as om in die veiligheid van 'n Hoggamajôjô-nes te woon, omring met almal vir wie jy lief is in die pragtige natuur bo-op die berg in Hogsback? Die berge wat handehou rondom Hogsback lyk bolangs soos die maanhaar van 'n groot bosvark wat ook hier in die Oos-Kaap voorkom. Bosvarke het ook twee kenmerkende groot tande wat by hulle bo-lip uitsteek en ek dink dat hulle miskien nie altyd van die vriendelikste en mooiste diere is nie... Maar hoekom nou van bosvarke praat? Sommer net om jou 'n ietsie meer oor 'n Hoggamajôjô te vertel. Jy wil tog sekerlik meer oor die Hoggamajôjôs weet? Hoggamajojos het groot ore sodat hulle tot die fynste kraakgeluidjies in die bos kan hoor. Hulle gesiggies het iets wat jou aan 'n bosvark herinner, daar is selfs twee blinkwit tande wat pryk langs die vrolike glimlaggies. Dis maar alles deel van hierdie droomkaraktertjie wat eers onlangs in Hogsback ontdek is. 'n Unieke kenmerk is hulle pragtige helder seegroen oe - glashelder soos die bergstroompies se water. Ontmoet jou blik die van 'n Hoggamajojo se blink-blink oe, voel jy of hy tot diep in jou hart kan kyk en sommer al die hartseerwees wegwas en die oopte daarna vol maak met sy jojo-liefde. Alhoewel Hoggamajojos ronde lyfies en kort beentjies het, is hulle verbasend rats en kan in 'n oogwink tussen die blare en takkies rondbeweeg en net verdwyn. Hulle word baie oud, maar die ouderdom is nie op hulle gesiggies sigbaar nie. Geen Hoggamajojo sal ooit sy ouderdom verklap nie. Inteendeel, dis 'n baie groot geheim, net so groot soos die geheim oor die Hoggamajojo-nes diep in die woud. Hoggamajojos woon as een groot familie saam maar funksioneer nie soos ons mense in gesinne nie. Hulle is baie liefdevol en deel graag drukkies uit, veral as iemand 'n bietjie hartseer of onseker voel. 'n Besondere tradisie is om mekaar se rue te smeer met 'n geheime wondermengsel waardeur hulle hulle liefde aan mekaar bewys. Die mengsel ruik nogal baie na koffie en kaneel! Omdat hierdie besondere spesie soveel liefde in oorvloed het, wil hulle dit graag met mense deel. Dit is die grootste rede waarom jou hart sommer sal oorloop van jojo-liefde as jy 'n Hoggamajojo aanneem om vir altyd in jou mensnessie te kom woon. Is dit nie wonderlik om deel van hierdie liefde te kan wees nie? Ek wonder wie van die Hoggamajojos nog by jou gaan bly.... Dit was 'n rukkie gelede op my laatmiddagstap in die tuin, dat ek haar die eerste keer gesien het... Die honde het baldadig rondgehardloop terwyl ek net op my geliefkoosde mosbedekte sitplekkie in 'n geheime hoekie gaan sit het.
Die sonbesies het al ophou kirrrrr en net hier en daar het 'n voël sy skemeraandliedjie gesing. Die bos langs my was vol ragfyn rooipienk blomme en dit was terwyl ek na die oordaad kleur gekyk het, dat ek die kriewelige gevoel gekry het van iemand wat my dophou... En toe sien ek dit; twee helder seegroen ogies wat my stip dophou tussen die pienk blomme deur. Voordat ek nog kon besluit om my liewer uit die voete te maak, staan sy met haar kordate ronde lyfie voor my. Die eienaardigste wesentjie wat ek nog ooit aanskou het; twee groot ore, 'n amper bosvarkgesiggie maar baie mooier, met twee witblink tande weerskante van die vriendelike glimlaggie. Koddige kort armpies gevou oor die balvormige magie en twee groot voete onder skaars sigbare beentjies. 'n Grys bos hare hang ewe netjies langs die ore af en dit raam haar gesiggie met 'n amper bekende sagtheid... Hoe ek haar besondere taal verstaan het is onmoontlik om te beskryf. Ek dink dit moes ietsie met die seegroen ogies te doen gehad het. Dit was amper betowerend om na hulle helderskoonheid te staar, sodat ek alles om my vergeet het en net die storie wat iewers in my hart lêplek kom maak het, kon onthou.. Die storie vertel van die wonderlike lewe van mens-diertjies in die diepste woude van Hogsback. Dit vertel van hulle liefde vir elke kosbare plant, van die eeuelange kennis oor die besondere genesingskrag van wilde kruie en veldplante. Van jare terug se wilde ongereptheid, met blesbokke, olifante, luiperds, leeus en soveel ander wilde diere. Diere wat onbesorg en vry daar rondgeloop het voordat die mens se spore hulle lewe stadig uitgewis het. Die verhaal vertel van die klein San-mensies wat geluidloos deur die bos kon loop en wat die natuur se ritme so goed geken en verstaan het. Dit vertel van die Xhosa, die Engelse en die hartseer geskiedenis van oorlog en gevegte en uiteindelike vrede waarna soveel mense die woude mak kom maak het, totdat net 'n klein stukkie geheime diepste woud nog oorgebly het. En dis in daardie diepste woud waar hulle vandag nog leef, die klein mens-diertjies wat hulleself die Hoggamajôjô's noem.. Fynbesnaard, vol lewensvreugde, vriendelik maar vreemd geheimsinnig.. Vol wysheid van lang jare se leeftyd, van waarneming van die natuur en die komplekse wesens wat hulle self mense noem. Die gryshaarwesentjie het gekom om te pleit dat ons mense tog die kosbaarheid van ons pragtige woonplek moet koester en waardeer. Dat die Samonga apies, die boomdassies, die ystervarke, die blou duikertjies, die Kaapse papegaaie en die Knysna loeries nooit hoef uit te sterf nie, omdat ons die wêreld hier té veel wou tem nie. Die mens moet weer leer stil word en luister na die bosgeluide, na die oerou stories wat in die bome ingeweef is. Hulle moet na hulle eie welsyn omsien, selfstandig en selfversorgend word en weer die skatkis van medisyne, voedsel en die lewe self ontdek, sodat hulle dit kan koester met teerheid en respek... Die Hoggamajôjô het 'n hele ruk stilgebly en diep nadenkend in die verte getuur. Toe het sy haar armpie in stille groet gelig, geglimlag en skielik verdwyn tussen die blomme, net so stil en onverwags soos sy gekom het.... |
AuthorSantie Amery ArchivesCategories |